Waar die son deurbreek en dennewoud aanraak, word die lug met oorvloedige
geur gevul. En binne die harmonie van die woud se ritme, speel die geure klowe af en berge op, waar veldblomme die ritme hul eie maak en in uitgestrektheid na die lewegewende strale dans. En bo-op hierdie berge lê die uitsig wyd, wyd gestrek, baie naby aan....hemelse-naby. En die stilte, gevul met geur en kleur, neem my saam....en ek weet ek is opgetel.......opgelig..... om vry te wees in lewensvlug. Vasgebind en losgekoop. Los, om nooit verstrik te wees nie. Vas, om nooit gelos te word nie. Want genade, wyer as hierdie uitgestrektheid voor my, omvou my hele wese tot binne in my diepste menswees. En die wonder dat niks my kan skei van hierdie liefde nie, vul my opnuut met lewensvreugde om in geloof en vertroue die volgende tree te gee. Want op die pad, waar die Lig is, is alles wat ek nodig het. ''...en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind ......Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek,.......Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak.'' Kolossense 2:1-15
Mag jy opnuut lag en sing en dans oor die wonder van jou vryheid.














