Terwyl boomtakke saamdans in die musiek van die wind, dartel hul herfsblare saggies na onde
r tot daar waar stroompies water liggies kartel oor gladde rivierklippe. En daar maak die oranje-geel seisoenblare hul sagte landing. n Landing wat hul op reis neem........hul wegvoer. En ek dink........soos woorde......woorde wat my op reis neem, my wegvoer. Woorde wat my bring tot binne my medemens se seisoen. Want om te praat en binne die praat te staan, maak my hart oop vir die oomblik se aanvoel. En om te kan voel, moes ek eers luister. Stilword en luister. n Luister wat veel verder teruggaan as net hierdie oomblik. n Luister wat by my binnekamer by die voete van ons Vader begin, sodat ek met aanvoeling kan hoor. Aanvoeling wat onderskeiding bring en my vul met deernis, liefde, vreugde, hartseer.......watter seisoen die mens voor my ookal beleef. En so bly my daaglikse begeerte dat ek tyd sal maak vir weggevoer word.......in dit wat werklik saakmaak. ''Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal onderskei waarop dit werklik aankom....''
Fil 1:9+10.
Mag jy beleef hoe die liefde van Jesus jou wegvoer.....tot aanvoel.














