Met n bruising wat vertel van oorvloedigheid, stroom die rivierwater tussen bergklippe deur.
My oog vang die spikkelblink wat soos silwer muntstukke op die water ronddans, en die speelsheid begin binne-in my hart te dans. Die natuur se vrolikheid is aansteeklik en klee ook die kaal, leeg gebrande denneboomstamme, met n helder strepies-silwer kleed. En aan die voete van die kaal silwer stamme, skitter die blink soos sterretjieliggies in die nuwe heldergroen bloekomboompies se bewegende blare. ''Ek staan binne rykdom!'', jubel my hart. Soveel glans omring my binne hierdie oomblikke. Glans uit ons Vader se hand...... oorvloedig..... bruisend...... LEWEND! Lewend binne elke omstandigheid....in groen, nuwe groei.....en ook
in kaal gebrand wees. ''Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons n lewende hoop.....''. 1Pet1:3-9.
Ek bid dat hoop altyd n bekende warmte binne jou sal bly, binne elke omstandigheid.














