Sommer net so bietjie nuus hier vanuit Nelspruit.
So beleef ons toe Maandag die eerste WARM dag wat almal so van gepraat het voor ons uit Centurion weg is. Sondagaand het dit al begin en alhoewel dit afgekoel het deur die nag, was Maandag 'n tipiese tropiese eiland dag. Die humiditeit was baie hoog en die son het sy werk gedoen.
Teen 3-uur het die wind wat maar heeltyd liggies gewaai het, die eilandgedagte nog verder geneem toe Nelspruit se palmbome al ruisende begin dans.
En so het wolk vir wolk, so saam met die hulp van die wind, bymekaargekom en kwart voor 7 die reën laat val. En hier tussen die koppe waar ons bly, eet ons toe by kerslig. Hier het ons al geleer om die kerse naby te hou wanneer die weer so begin opsteek.
En gister... wel, toe word daar gesoek vir 'n dun baadjie oor die bloesie. En so is daar elke dag 'n nuwe belewenis, en so word daar koelte gegee na die erge hitte. Dit lyk my ons gaan vir die res van die week hierdie bewolkte reënerige weer hê.
Ek staan telkemale verstom oor die aanmekaargeweefdheid van ons liggame. Maandag was 'n dag soos elke ander dag. Die warm weer het nie gemaak dat ons moeg was of dat ons nie kon voortgaan met die normale Maandag take nie. Inteendeel, Maandag was juis besiger so tussen die uistake, Tiaan se eksamensessie, Marno se skool, fisioterapie en Lofdanse. Ja, ons het selfs gedans in die hitte!!!!!!
Ek heg sommer vir jou ietsie wat Vrydag in my hart kom lê het hierby aan.
Ek hoop jy kans om kaalvoet op die gras te gaan loop.