Genade. Vir my roep dit altyd ‘n prentjie van die Kalahari op.
Ons het daardie jaar ‘n groen Kalahari beleef. Op een spesifieke dag, so met die ry van die rooibruin duinepad, het ons ‘n plato bereik. Die rooibruin pad het agter en voor ons uitgestrek gelê. Links en regs van ons, was veldplante in hul groenste groen, en bo ons, die blouste blou lug.
Ek sal dit nooit vergeet nie. Daar waar groen en blou mekaar op die horison ontmoet het, was ‘n ronding … soos om bo-op ‘n baie groot aardbol te staan.
Ek het vir Danie gevra om te stop, en met die uitklim kon ek die stilte aanraak. Eers het ek net so bly staan, en toe die kamera gaan kry om hierdie grootheid af te neem. Maar...ek kon nie, het ek agtergekom toe ek die foto’s later kyk. Daardie grootheid, daardie wydheid, daardie Teenwoordigheid, kon nie vasgevang word nie.
En dis hoe ons Heer se genade is ... te groot om vasgevang te word. Te groot om te beskryf. Want, watter woorde gebruik mens wanneer jou hart ‘n oorloopgevoel beleef wat van die krop van jou maag af kom? Watter woorde gebruik mens wanneer hierdie oorloopgevoel in jou keel kom sit en jou stem stilmaak? Watter woorde gebruik mens wanneer daar ‘n branderigheid in jou oë kom lê en jou sig wasig maak?
Net...dankie Heer, dankie, dankie.
Hierdie genade beleef ek elke dag. Dankie Heer, dankie, dankie.
Ek het U so lief dat my hart daarvan wil oorloop, dat die knop in my keel my stem stilmaak, dat trane van geluk in my oë brand. Dankie dat U my versekering, my anker is, in ‘n ewig veranderende, onseker wêreld.
Romeine 5:2-5 “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop op die heerlikheid wat God vir ons bestem het. Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”
Ek hoop jy voel hierdie oorloop-liefde en oorloop-hoop, altyd binne jou.
Liefde
Caroline