Liewe Vriende
Erens in Junie het een van Danie se kollegas ons genooi om 2 Augustus by Die Storiehuis na Coenie de Villiers te gaan kyk. Dis nou om ons bekend te stel aan Die Storiehuis en die mense van Malelane. Ons moes dus net ja sê en saamgaan.
Vir my was dit soos 'n geskenk wat in blink papier toegedraai was, met 'n groot strik om. En hierdie geskenk moes daar in die kas bly lê vir 'n hele maand lank. So, julle kan dink hoe opgewonde was ek.
Toe kom die Inniebos Fees mos en word Danie gevra om te help om die TRAC-stalletjie te beman. Daarvoor ontvang ons toe kaartjies vir...Coenie de Villiers!! Wow, en wat 'n groot voorreg om 2 keer die geleentheid te kry, en wat 'n belewenis. By die fees is sy nuwe cd vrygestel en dit is voorwaar briljant. Katedraal is veral 'n baie, baie besonderse lied.
Wel, gisteraand was dit toe tyd vir die "geskenk"om oopgemaak te word, en dit was voorwaar 'n groot geskenk. Die Storiehuis is binnekant die grootte van ons The Reeds huis se sitkamer en eetkamer aaneen. Daar is 'n kombuis, so jy kan daar eet ook. Die atmosfeer is so gesellig en ons het so lekker gekuier saam met mense wat ons nie eens ken nie. Ons het Veels Geluk gesing vir 'n meisie wat 18 geword het gisteraand, en dit het gevoel soos wanneer ons vir mekaar sing by 'n verjaardag. Dis moeilik om al hierdie dinge in woorde te beskryf. Daar was ongeveer 60 mense en wat 'n voorreg om om tafels te kan kuier en te hoor hoe daar gelag word, oor daaglikse dinge gesels word en oor ons Heer gesels word. En wanneer jy huistoe gaan, groet almal vir almal.
Julle weet mos maar hoe intens ek dinge ervaar. Ek stuur vir julle die gedeelte aan wat ek vir Esmarie(ons gasvrou) gestuur het.
Vir jou my liewe vriend/vriendin, bid ek 'n week van vreugde, tonne en tonne liefde en vrede, te midde van buite-omstandighede wat jou dalk onrustig wil maak.