So asof ons onder 'n heerlike koelteboom sit en kuier, deel ek graag hierdie stukkie van ons land met jou.
Vrydag was mos ons huweliksherdenking en besluit ek toe om vir ons 'n piekniek by die Botaniese tuin te reël. Donderdagoggend kry ek toe egter 'n mms met kameelperde van Danie af waar hy sê hy sien uit na ons naweek saam van rustig wees. Ons het beplan om Saterdag vir die dag wildtuin toe te gaan, so ek het gedink hy praat daarvan. Maar nee, want later die middag kry ek 'n sms wat sê dat ek al my afsprake vir Vrydag moet kanselleer en van 13:00 by die huis moet wees. Hy het blykbaar op die kalender gesien ek gaan hare sny die middag. Gelukkig kon ek toe my afspraak skuif vir Vrydagoggend.
Donderdagaand kry ek nog 'n sms wat sê :'ons bly in die plek waar die "Son" opkom. Ek wonder wat dit vir ons inhou? Ons sal maar moet wag vir nog leidrade". Vrydagoggend kry ek weer 'n sms wat sê :"ons gaan nou nie "gim" nie, maar rus...." Later weer een wat sê "jy gaan jou hare vandag doen, maar nie jou "vel" nie. "o", jy moet maar reg wees vir aksie."
Die laaste sms kom deur toe ek by die voordeur instap nadat ek die kinders by die skool gaan kry het :"jy het seker al afgelei ons gaan "Weg"?" Maar nee, ek het nie geweet wat om af te lei nie.
By die huis aangekom het Danie vir my gesê om klere vir een nag en dag te pak. Hy het die Bakkie gepak en toe is ons weg, oppad na ...??
By die plek aangekom, haal Danie toe 'n Weg tydskrif uit van Julie 2008. 'n Tydskrif wat om een of ander rede met ons pos wat nog in The Reeds afgelewer is, nooit oopgemaak is nie. Danie het die tydskrif eers verlede week oopgemaak. Op die voorblad van die tydskrif lees ek toe "KOM NA SONGIMVELO Kyk al die kameelperde!" En toe eers kon ek al die leidrade bymekaar sit en voel my brein vir 'n slag nie meer so wasig nie.
Dis 'n pragtige, bekostigbare, eenvoudige, skoon en netjiese plek in die bos tusssen asemrowende berge. Ek noem dit sommer Heidi-berge.
Daar kan 6 mense in 'n huisie slaap. Die Kromdraai kamp huisies is in die negentigerjare deur 'n Hollywood-filmspan gebou. Die film wat in die Songimvelo reservaat(net langs Kromdraai kamp) geskiet is se naam is "The Gost and the darkness". Blykbaar het die film nie so goed gedoen nie, maar Oscar gewen vir beste Klankregie. Wel, dis maar sommer so 'n bietjie agtergrond-inligting.
Die skrywer van die artikel sê onder andere :"kom ons hoop iemand iewers in die regte kantoor skrik skielik wakker en besef watse bate Songimvelo vir Mpumalanga kan wees", want ja, die grondeiese is 'n groot werklikheid in die omgewing.
Ek is dankbaar vir die groot voorreg om hierdie mooi, hierdie bosstilte te kon beleef so saam met die pragtige, pragtige berge. En dan het ek nog nie eens vertel van die voëls nie!!!
Dit was HEERLIK!! Ek is bederf met aandete en ontbyt wat hy sellf gemaak het. Ek is dankbaar vir Danie in my lewe!!!
En toe is ons Saterdagmiddag oppad terug huistoe en voel dit vir my asof ons 'n hele naweek weg was.
Ek bid vir jou seën op jou huwelik.