Dis ‘n slinternuwe dag, ‘n splinternuwe week, en my hart sing sommer vanoggend oor ons Heer se wonderdade en sy onverstaanbare genade.
Genade wat so groot is dat dit ‘n mens se hele wese oor en oor en oor met verwondering vul.
Ek beantwoord vanoggend ‘n vraag wat vra : “How is you life?” Ek antwoord “wonderful”, want ja, my lewe is gevul met wonders……soos elkeen van ons hier op aarde sin. Ek gaan soek toe sommer die woord “wonder” in die Engels verklarende woordeboek op, iets waaroor die kinders nou weer lekker sal lag want ek is mal oor ‘n woordeboek. Die betekenis sê toe vir my :”an extraordinary and beatiful or admirable thing, person”. En ek dink sommer dadelik aan my afstap in die gang vanoggend en toe die uitkyk by die kombuisvenster en die raaksien van die pragtige kleure wat toe musiekmaak tot in my hart. Ek dink toe ook aan die afgelope naweek se Esterkonferensie waar ons onder andere gesing het “Jesus, what a beautiful Name”. Wat ‘n belewenis om duisende vrouestemme dit te hoor sing wanneer die musiek sagter word en dit net die sagte vrouestemme is wat opklink na Bo…….in ootmoed……in nederigheid…….in afhanklikheid. Wat ‘n besondere persoonlike belewenis.
En so het die belewenisse my hart, baie spesifiek, stap vir stap kom vul, tot ek my bevind het daar waar geen gedagtes my kon bind nie. En toe sing ons “amazing grace how sweet the sound, that saved a wretch like me………….the chains are gone, I’ve been set free!!!” En met groot dankbaarheid is hierdie woorde in lofprysing gesing. Woorde wat nie net binne hierdie oomblikke van saamwees my hart gevul het nie, maar woorde wat elke dag deel is van my en elkeen van ons se bestaan hier op aarde. Woorde wat my nie anders kan laat optree as om oor te gee nie. Alles wat ek is en alles wat ek het, oor te gee aan ons Vader wat elke dag in beheer is van ons lewens.
En hier het ek toe teruggedink aan Novembermaand met ons Kerssangdiens. Ons het onder andere Koos du Plessis se “Gebed” gedans en daardie dag het ek met my hele hart elke woord tree vir tree gebid en elke tree met oorgawe getrap.”Laat my nooit U grond verlaat nie, Laat ek in U skadu bly, Gee dat elke aardse vreugde en vrees, eindelik nietig word vir my………..Elke dag is ‘n gedagte, Elke kamer net gehuur, Elke aardse droom van rykdom en roem, Bloot net ‘n skadu teen die muur, Want wat ek is is net genade, Wat ek het is net geleen, Eintlik smag ek na U waters van rus, Lei my Heer vanaand daarheen.”
En rus het ek ontvang, in oorvloed. Want sien, wanneer mens vra, ontvang mens, soos ons Heer weet die beste vir jou is (Matteus 11).
En so kon ons toe begin berus binne omstandighede waaraan ons menslik niks kon verander nie. Want sien, mens probeer mos maar altyd aanhou dink aan watse plan jy nog kan maak. En ons het maar bly hoop die huis sou verkoop sodat ons daar waar ons agtergeraak het na die besigheid se likwidasie en Danie toe nie werk gehad nie, sou kon inhaal. Maar daardie deure het toegebly……………dis nou ons huis in The Reeds se deure. En so het ons toe die huis verloor en in sekwestrasie ingegaan. ‘n Proses wat baie negatiewe dinge beteken, maar deur soveel genade, so baie baie genade, het alles goed verloop en is ons skuld afgeskryf.
Met ‘n hart vol dankbaarheid kan ek sê, “wat ek het is net geleen”. Die huis waarin ons bly LEEN (HUUR) ons, en al sou ons dit graag wou koop, sal dit vir die volgende 4 jaar nie kan gebeur nie. Maar, ons Heer seën ons oordadig met die pragtige sonsopkoms so deur die kombuisvenster. Met die helder blou lug waarteen prentjieswolke vanuit agter die berg, my kombuisdeur toe roep om hierdie wolkstories te kom lees. Hy seën ons met mistigheid wat soggens oor daardie selfde berg kruip en in die tuin kom lê, sodat doudruppels aan die boomvarings hang en die skadu’s jou laat wonder “was dit dalk ‘n feetjie wat daar beweeg het?”
Die bakkie wat Danie ry is GELEEN, want dis die werk se eiendom asook die diesel waarmee die bakkie loop. Die motor wat ek ry is GELEEN, want dis ‘n kollega van Danie sin wat gehoor het ek het nie vervoer nie en die motor wat al twee jaar by hom ongebruik staan, aangebied het vir ons gebruik.
En so kan ek opnoem en opnoem en opnoem. En so wil ek dankie sê en dankie sê en net nooit ophou om dankie te sê nie. Vir my verstand is daar net so baie dinge wat heeltemal te groot is om te verstaan. So baie mense wat anoniem bly, maar ons Heer gee vir my insig, en ek sê dankie en ek bid vir jou vir oorvloedige seën.
My gedagtes terug by die Esterkonferensie sing ons toe “I was made to love You”, en soos altyd met hierdie lied, loop my trane toe maar sommer net lekker vry. Hierdie was een van die eerste liede wat ons gedans het toe die lofdansgroep 12?? jaar terug in The Reeds begin het. En hierdie was nog altyd vir my ‘n baie spesiale lied. Maar hierdie keer val daar toe vir my baie spesifiek op een woord ekstra klem……..”will”.
“I was made to praise You, I was made to glorify You’re Name, in every circumstance, I will find a change to thank You, I was made to love You, I was made to worship at You’re feet, and to obey You Lord, I was made for You.” En met die sing hiervan, dans my hele wese hierdie wete. Want ja, in elke omstandigheid WIL ek ons Vader eer en loof en dank, want elke omstandigheid bring my nader en nader en nog nader aan die enigste Vader by wie ek rus en vrede vind, vir wie ek lief is met my alles. En ek sê dankie en dankie dat ons Vader vir my lief is, en wéét ek,al is ek ‘n sondige mens………….ek is vrygekoop…………….”the chains are gone, I’ve been set free”!!!!
Vry om te lewe, vry om te dans tussen boomvarings, tussen dennebome. Vry om die son se strale te sien speel tussen hierdie bome se blare tot dit my vel aanraak, my hart aanraak en die woud se voëlmusiek oorgaan in ‘n simfonie van vreugde. Want ons Here leef en Hy is in beheer en Hy sorg!!!
“God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie……………….Kom kyk wat die Here gedoen het, watter ontsettende dinge Hy op die aarde tot stand bring;……….” Psalm 46
Alles………………het ons alles verloor? NEE!!!
Marno is aan ons teruggeleen!! En sy gesondheid word al hoe beter!!
Danie het ‘n werk waarin hy so gelukkig is!! Die mense wat saam met hom werk is omgeemense!!
Die kinders het goed aangepas by die skool en het vriende gemaak wat omgee vir mekaar!!
Nuwe vriendinne het oor my pad gekom en ons stap langs mekaar sodat niemand moet voel daar word vir mekaar weggehardloop nie.
EN
Dan is daar jy! Jy wat deur jou woorde, jou dade, jou manier van dinge hanteer, jou aanraak………………my geleer het om nie moed op te gee nie. Ja, ek weet jy weet dit dalk nie, maar as jy my vra sal ek vir jou baie spesifiek kan sê hoekom ek so sê.
Dankie!!
So, ons het nie verloor nie, ons het net so vreeslik baie ontvang!!!