Hier by my lê die hele tuin, ja, letterlik die hele tuin, vol blare. Die wind het gister laatoggend sy waai behoorlik kom waai en ons kom herinner dat winter hier is.
Ons het pad gevat, want ek wou bome gaan afneem en sommer net weer die veld, bos, en woud, gaan inasem ... en natuurlik gaan koffie drink in die veld. En soos ons ry, het ek teruggedink aan verlede jaar. Dit was ons eerste winter hier, en alles het vir my so vreeslik groen gelyk vir winter en ek kon nie verstaan dat mense sê die Laeveld is droër nie. Nou, 'n jaar later, het ek al 'n Lente, Somer en Herfs beleef en sien ek beter. Nou sien ek die verskil duidelik raak. Want, soos ons ry, val die blare soos stortreën en ook die Laeveld se immergroen, bedek met winterstof, word vaalgroen. Berge is 'n rustige geelbruin en nooi jou steeds uit om in hul voue te kom lê, maar jy weet, van nader beskou is daardie voue nie sag in hierdie seisoen nie.
Maar nogtans is daar oorvloed groen en nogtans is daar son! En nogtans vul die dennegeur jou wanneer jy dit die minste verwag. Soos 'n groot present wat sommer net so skielik by die motorvenster in op jou skoot beland ... so saam met die vlinders wat voor die motor uit vlieg.
So, dit raak koud hier by ons ook, saans en soggens. Danie sê ek het heeltemal te gou geklimatiseer.
En o ja, gister laatmiddag was die pekanneut-oes GROOT!! Dankie wind.